EENMAAL `N TAKIE, ALTYD `N TAKIE
Witbank Skydiving klub, Saterdag 4 Februarie. `n Groep oud-Taakmaglede en `n paar vriende kom bymekaar, sommige om te spring, ander om gholf te speel. Die derde groep, met onder andere Larry Hanton en Roelf Pretorius, maak seker dat die “Skydive Inn” se voorraad Hansas en Castles `n ernstige terugslag beleef. Natuurlik kon die manne weer “drinking coins” aanskaf by Koos (daar loop `n gerug dat Larry syne vir R5 verkwansel het by die Taakmag 35 jaar reunie...). Herhaaldelik probeer Genl Mike Fryer vroeg spaander, om net weer deur die manne voorgelê te word.
Twee vriende van die Takies, Anemari en Carina, doen tandemspronge wat deur Jason Richardson van die klub gereël is. In haar woorde:
DIE EERSTE KEER
Corné (24 jaar in die lugmag) “brief” vir my en Carina, en daarna is ons met die tweede vlug op, blou overalls aan. Hy sing vir my “Anemari my skat” en ander songs terwyl ons vlieg. Ons is agt in die vliegtuig en sit tussen mekaar se bene. Met die inklimslag maak Corné my by die heupe aan hom vas. Ek sit naaste aan die deur en kan die wêreld wat al hoe verder wegtrek deur `n spleet beskou. Op sy altometer sien mens hoe ons vorder ... 0,9 voet, 2000 voet, 5000... Op 8000 voet word ek vir die eerste maal benoud. Corné maak ons aan die regter en linkerskouer vas. Sit `n plastiese bril op en hou Caryn se been vas. Toe is ons op 10 000 voet. Die deur gaan oop en ek skrik my in `n stilstand in. Yskoud en móérrr hoog!!! Maar daar is geen omdraai nie. Drie ouens klim oor my. Toe swaai ek my bene oor. “Onthou die piesang maak met jou lyf, skop sy boude...” wil ek nog dink toe is ek en Corné in vryval. Dit was verskriklik en `n “rush” soos nog niks anders nie, gelyk. Ek skrik weer toe die valskerm oopgaan...en toe die stilte ... vry ... vry ... en ek moet beheer, en draaie maak, en rondkyk ... en toe is die grond dáár, “flare”, bene op, land op die boude, veilig. Wow. Wow.
Groot dank aan Fanie Jacobs vir die reël van die dag, Jason Richardson en aan almal wat daar was en die dag onvergeetlik gemaak het. EENMAAL `N TAKIE ALTYD `N TAKIE.
0 comments:
Post a Comment