Breëbors. Beginselvas. Broederskap. Dít is die gedagtes
wat deur my kop flits toe ek die bonkige skouers in die donkerblou baadjies
sien, Koevoetbondwapen op die sak. Die manne staan in `n groep in die skadu van
die Voortrekkermonument en gesels. Met die naderstap word my vermoedens
bevestig. Die groot hande druk stéwig en dit is oë wat `n bars kan kyk. Nie
manne met wie mens mors nie.
Die omspit van die eerste sooi vir die Koevoet Muur van
Herinnering is `n rare en geskiedkundige geleentheid wat deur ongeveer drie en
twintig ou-Koevoetlede bygewoon word. Verskeie eregaste is ook teenwoordig,
onder andere Genl. Hans Dreyer en sy eggenote, Genl. maj Gert Opperman en Leon Bezuidenhout,
mede-skrywer van Skadu`s in die sand.
Ons kom byeen in die saal. Paul Fouché heet almal welkom
en gesels oor die Koevoetbond en die standbeeld wat deur beeldhouer Brahm van
Zyl geskep is. (Hy was ook ontwerper van die dierestandbeelde by Sun City).
Twee honderd en vyftig van die beeldjies word gegiet en die fondse gaan
aangewend word om dieselfde beeld lewensgroot by die Koevoet Muur van
Herinnering op te rig. Elke beeld word genommer en die handtekening van die
beeldhouer verskyn daarop.
Genl. Dreyer praat met trots van Koevoet se suksesverhale
en onvergelyklike aantal “kills”. Hy vertel van die eerste maal toe `n .50 op
`n Casspir gemonteer is, en hoe, tydens `n kontak, die “gunner” toe `n landmyn
tref op een van die vlugtende soldate se rug. Die landmyn het gedetoneer en die
“gunner” se woorde daarna was klassiek: “Jirre maar hierdie gun kan skiet!” Die Koevoetlede lag uit hulle maag. Volgens
inligting van die Koevoetbond was Koevoet vanaf 1979- 1989 verantwoordelik vir
meer as 3681 van SWAPO PLAN ongevalle.
Tipies van die Koevoete is daar oorgenoeg te ete en
drinke.
“Hoe het die drome van `n Koevoet Muur van Herinnering
tot stand gekom?” vra ek aan Pine Pienaar, lid van die komitee. “Dis `n lang
storie,” sê Pine. “Ek, Tony da Costa en Herbert Tietz het maar die ding
lewendig gehou, van die eerste Koevoetbond gevou het. So drie jaar gelede het
ons die Koevoetbond weer van die grond af gekry. Ons het doelwitte gestel, jy
weet. Soos Eugene de Kock, om te kyk hoe ons kan bydra met wat hy nodig het, en
vir wanneer hy uitkom. En soos nou, met Frank Young”.
Hy skep asem. “Jy weet, al die name van polisiemanne wat
op die grens gesneuwel het, wat by die Polisiekollege op was, is mos verwyder. Toe
het die hele idee van die Koevoet Muur van Herinnering `n werklikheid begin
word. Paul Fouché is projekbestuurder vir die Muur”.
Dan is dit tyd om na die Tuin van Beelde te beweeg, daar
waar die nuwe staanplek van die Koevoet gedenkteken sal wees. Die prosessie
beweeg stadig met die klippaadjies langs, na `n ongebruikte stuk veld met `n
lieflike uitsig na die noorde van Pretoria. Ook Sisingi Kamongo is daar, met
Petrus wat sy rolstoel hanteer. Sonja Lombard, besturende direkteur van die
Voortrekkermonument, loop voor.
`n Paar woorde word kortliks gewissel. Genl Dreyer neem
die graaf op en druk hom flink in die harde bosveldgrond. Die grond is droog,
stowwerig. Rondom hom in `n halfsirkel staan
sy manne. Ek verbeel my hulle net so staan, in `n tyd en in `n ander land, lank
gelede. Sisingi (Shorty), Petrus, Absalom en Sakkie skuif nader aan mekaar en
sing. Wamboranta oshirongo si, o Wamboranta wen je.
Ek kyk na hulle oë. Die sang neem hulle na hulle grootwordplek, die plek waar
hulle soldate en manne geword het. Elke oud-Koevoet teenwoordig loop vol met
herinneringe.
Op pad terug wil ek met Shorty gesels.
“Nee, nie nou nie,” beduie hy met sy oë op Genl. Dreyer
se rug. “Ek wil eers met die Generaal gesels.”
Genl. Dreyer en sy vrou gaan staan stil êrens op `n
klippaadjie, soek in hulle sakke rond. Hy draai om en druk `n paar R100-note in
Shorty se hand.
“Gaan drink julle manne iets hiermee,”sê hy. Die manne se
oë blink. Hulle gesels met hulle Generaal.
Die terugtog na die onthaalsaal is plesierig, want daar
is drinkgoed beskikbaar en nog van die vingerkos. Oral is die Afrikaner- en
Trekkergeskiedenis sigbaar in die dekor van die sale – geroeste blikbekers en
–borde, oorblyfsels van implemente wat nou as blombakke ingespan word.
Buite drink die ouens Red Heart en Windhoek. Die
atmosfeer raak gemoedelik, daar is ou en nuwe stories om te vertel. Die lewe
het aangegaan. Ek kyk rond. Ouer, gryser, miskien nie meer so fiks nie. Maar
binne-in: dáár bly hulle soldaat.
Gedeeltelik as gevolg van Shorty en Leon se boek, is daar
hernieude belangstelling in die Koevoet broederskap, wat vlamvat in die
sooispit geleentheid vandag. Beide Pine, Tony, Herbert en nou ook Paul offer
geweldig baie van hulle persoonlike tyd op om die Bond te vestig en te bestuur
tot voordeel van al die lede. Die bosoorlog is verby, maar die
kameraadskap van oorlog bly in die bloed.
kameraadskap van oorlog bly in die bloed.
“It`s a little fucked up, ain`t it, Colonel Tom?”
“Yeah, it`s a little fucked up. But it`s the way we`re
going to do this.”
Night
Train, Martin Amis
(Aanhaling geleen uit Eugene de Kock se boek: A long night`s damage.)